God of Wonders - by Gert Dreyer

Received from Gert Dreyer on 21 July 2015
Ons dien ‘n YHWH van wonders (please click on the translate button if necessary)

Ek moet eintlik my kop laat sak omdat ek nou eers hieroor praat maar daar het die afgelope jare soveel wonders en ook struikelinge in ons lewe plaasgevind dat my verstand by tye glad net nie meer wil registreer nie.  Kom ek begin by die begin dan sal u verstaan:

“My vrou het so 9 jaar gelede ‘n operasie op haar enkel ondergaan agv ‘n ou hokkie besering.  Die Dr het toe die enkelgewrig “skoongeskraap”.  Nou ja, 1 jaar later was ons terug by die hospitaal en het ‘n operasie plaasgevind om die been vas te maak sodat die enkel gewrig nie meer kan beweeg nie.  Die Dr heg toe die voet skeef en ongveer een jaar later word die operasie herhaal om die voet los te breek en weer reg vas te heg.  Hier begin die probleem, my vrou kry toe die sogenaamde hospitaal virus waaroor almal so maklik praat sonder om te besef wat dit werklik is.  Met medikasie kry hulle die virus toe gou-gou “dood” en gaan ons aan met ons lewe.  Van daar af kry my vrou sporadies infeksies in die enkelgewrig en gebruik ons maar medikasie om dit elke keer onder beheer te kry en werk dit redelik goed.  Op daardie stadium in ons lewe ken ons vir Yeshua maar loop ons nog met ons Gereformeerde brille rond soos ons maar grootgeword het.  Ons maak soos duikbote en Sondae kom ons op om ons “liefde en dankbaarheid” vir Yeshua uit te leef en in die week is ons darem nie te “sondig” nie en loop ons wel met die besef rond dat ons sondaars gebore is en ook so sal bly.

Intussen gaan die lewe aan en ondergaan ek self op ‘n stadium ‘n hartomlyning waaroor ek later in detail sal praat.  Dit is dan oor hierdie tyd wat ons werklik eers te doen kry met die “grace” van Yeshua en nie net met die “aankla” en jy is en bly ‘n sondaar teologie nie.  Ek ontmoet in hierdie tyd wonderlike kinders van ons Vader en kom ek ook tot die besef dat die Gereformeerde godsdiens my oor baie jare verblind het en ook blind gehou het.  Ek weet nou dat daardie godsdiens gebou is op die “Vrymesselaar” fondamente maar dit is ‘n gesprek vir heel ander tyd en plek. 

Gedurende November 2014 begin my vrou se enkel weer met sy streke en soos ons maar oor al die jare gewoond is gebruik ons mensgemaakte medikasie alhoewel ons ook nou weet om te bid vir genesing.  Ons staan egter ook nog in nuwe skoene wat hierdie gebede aanbetref en glo ek dat daar ook steeds ‘n mate van kleingeloof in die are rondgeloop het.  Hierdie enkel is egter hierdie keer ‘n voël van anderse vere en beland my vrou in die bed want sy kan glad nie beweeg met die voet nie.  Ek hou maar huis en speel Dr en ook prediker.  My gebede maak egter na my mening geen verskil nie en met die gebede en die medikasie gaan dit daagliks met haar net al hoe slegter.  My vrou lê toe al vanaf die Saterdag in die bed en die Dinsdag begin sy vreeslik braak.  Hier teen die aand se kant sê sy vir my sy sien rooi en geel wurms rondswem voor haar oë.  Nou ja, met my hartoperasie se nadraai in 2013 is die persoon wat langs my in die ICU gelê het oorlede nadat almal vir hom gelag het oor die rooi en geel wurms wat hy gesien het.  Ek skakel toe onmiddellik die ambulans en hulle is gelukkig binne 15 minute by ons.  Nou ja, om my vrou op die draagbaar en in die ambulans te kon kry is ook ‘n storie vir ‘n volgende geleentheid.

Net hier staan Yeshua se genade en voorsiennigheid nou groot uit want ons mediese fonds is die Weermag se voortsettingsfonds wat beteken my vrou moet nou eers na die Provinsiale hospital in Potchefstroom geneem word waar die Provinsiale of algemene praktisyn aan diens op daardie aand sal besluit wat met haar moet gebeur.  As sy na die Medi-Clinic of enige ander Hospitaal moet gaan moet daar eers een enorme klomp magtigings aangevra en ook eers verkry word by die Voortsettingsfonds. 

Intussen gaan dit al hoe slegter met my vrou en kan ek die rooi strepe al op haar been sien oploop.  Nou ja, ek het gesê dat my gebede geen indruk op daardie enkel gemaak het nie maar was ek darem vir jou verkeerd, die genade kom nou hier so duidelik na vore want met ons aankoms by die Provinsiale Hospitaal is daar daardie aand ‘n “Weermag Dokter” aan diens?  Toevallig nê?  Nee my Broers en Susters, toe val die lig, want hierdie Dr gee my vrou een kyk, bevestig met my of ons aan die voortsettingsfonds behoort en gee net daar en dan opdrag dat my vrou met dieselfde ambulans na die plaaslike Medi-Clinic oorgeplaas word.  Die Dr reël sommer self al die magtigings ens en met aankoms by die Medi-Clinic word my vrou dadelik opgeneem in die ICU en op drups geplaas.  Nou ja, sy is die volgende dag geopereer deur ‘n plaaslike spesialis en bevestig hy na die tyd aan my dat sou sy ‘n paar ure later aangekom het by die Hospitaal sy dood sou wees?  Watter groot genade het ons nie hier ontvang nie en sien u ook nou Vader se ingryping?  Sy het Osteomilitus in daardie enkel ontwikkel en met Yeshua se genade is dit betyds opgespoor.  Ek weet dat dit geen aardse Dr was wat haar gesond gemaak het nie en ek weet daar sal baie van u wees wat sal sê dat alles weens ons kleingeloof gebeur het maar weet u, ek sien net vir Yeshua in hierdie hele proses raak en niks anders nie.  As dit nie vir SY ingryping was nie sou dinge baie anders gelyk het en kan ek nou getuig van SY wonderlike ingryping want ek het dit self gesien.  My vrou was vir 4 dae in die ICU en nog 11 dae daarna in die hospitaal.  Sy het gesond daar uitgeloop uit SY groot genade.   

Ek het ook net weer besef dat Yeshua op baie maniere werk waar gebede plaasvind vir genesing en dat Yeshua in baie gevalle aardse geneeshere gebruik om SY wonders uit te voer.  Ek weet u stem ook nie almal hiermee saam nie maar ek leer elke dag meer en meer en ek ontdek ook dinge in die Woord waarvan ek nog nooit gehoor het nie en dit is net omdat Yeshua dag vir dag my oë groter oopmaak en ook helderheid van verstand aan my verskaf.  Ons mensies op hierdie aarde het vir te lank godsdiens, kerk doktrines en denominasies gespeel en dit ook bo ons Vader verkies?

Ek vir een was baie lank vasgevang in die “jy is in sonde gebore” en so sal jy doodgaan en jy kan niks daaraan doen nie.  Jy moet net elke liewe dag vra om vergewe te word vir jou sondes.  Ek besef vandag wat Yeshua aan daardie vloekhout vir ons gedoen het en dan is daar ‘n baie belangrike gebeurtenis wat my na aan die hart lê en dit is die leë graf.  Dit gee my daardie versekering dat Yeshua leef en dat HY weer terugkom na ons.  Ek sien dit ook in Johannes 20:7 met die linne wat opgevou en neergesit is waar Yeshua se kop gelê het.  Die gebruik van die Jode was as hulle die tafel verlaat het gedurende etenstyd en weer sou terugkeer na die tafel om klaar te eet, hulle die servet opgevou het en dit langs die bord neergesit het sodat die bediende of kelner dan weet om nie die tafel af te dek nie.

Ek vertel op ‘n latere stadium vir u almal van die pad wat ek moes stap die afgelope klompie jare en hoe Yeshua al baie lank met my en my gesin besig is al het ons baie lank verkies om steeds blind rond te loop.  Ek vertel ook graag van my Moeder se heupvervanging waar Yeshua se ingryping so ongelooflik was soos u dit nog nie beleef het nie en dan is daar my hartaanval, omlyning, gebreekte borsbeen, borsbeen infeksie ens.

Groete

Gert Dreyer   

No comments:

Post a Comment